Pasiëntonderrigstandaarde vir verpleegpraktyk in algemene hospitale

Abstract
Hospitalisasie beteken die oorgang van ’n bekende na ’n onbekende omgewing en ontketen ’n behoefte aan leer en of gedragsverandering ten opsigte van sy gesondheidstoestand by die pasiënt. Dit is ’n integrale deel van die verpleegkundige se onafhanklike funksie om ook in hierdie behoefte van die pasiënt te voorsien. Navorsers dui op ’n aantal positiewe gevolge van pasiëntonderrig (Devine 1986, p 99-100) (Wilson-Barnett 1983, p 37) en dit is duidelik dat pasiëntonderrig uiteindelik sal lei tot effektiewer pasiëntsorg. Ten spyte van baie duidelike voordele word hierdie funksie van die geregistreerde verpleegkundige tot ’n groot mate oorgeneem deur paramediese personeel (Brownlee, 1983 p 102). Ander navorsers bevind dat die aard en kwaliteit van pasiëntonderrig wat wel gedoen word nie na wense is nie (Pera, 1986) (Muller, 1986 p 148-150). Hierdie ontkenning van die pasiëntonderrigfunksie deur die verpleegkundige word onder andere versterk deur ’n gebrek aan pasiëntonderrigstandaarde. Geformuleerde standaarde wat as maatstaf van kwaliteit dien sal die verpleegkundige weereens bewus maak van haar funksie in hierdie verband.
Keywords